Calendar

Sunday, June 22, 2008

Monumentpark-Wes gemeente is 25jaar oud

Monumetparkpark-Wes gemeente en kerk was ‘n belangrike deel van my vorming as kind en vandag is die kerk deel van my menswees.

Omdat ek nie regtig ‘n skrywer is nie is dit moeilik om my emosies van Sondag oggend 18 Mei 2008 te beskryf. Die oggend diens was die hoogtepunt van ‘n naweek se feesvieringe aangesien die kerk 25 jaar oud is.

Sondag oggend in die kerk kon ek voel dat my hart met vreugde gevul is omdat ek deel is van ‘n gemeenskap wat die Here dien, ‘n gemeenskap met ‘n visie i.t.v. van God, medemense (mekaar) en die wêreld. Die leraars van die afgelope 25 jaar het elkeen die gemeente op sy manier gelei en my lewe beinvloed.

Tydens die diens was my oë ‘n paar keer gevul met trane omdat ek bietjie terug gedink het aan alles wat in die gemeente beleef het.

Daar was fotos geprojekteer van die terrein voor die kerk gebou is. Die terrein was bekend vir sy BMX-baan. Ek weet tot vandag nie wie die baan gebou het nie, maar dat ek lekker fiets gery nee gejaag het is verseker. Dit was ook die plek waar ek en my boetie ‘n paar keer geval en seer gekry het. En soos ‘n kind se wêreld mos maar is kon ek nie verstaan waarom daar ‘n kerk moes kom, want nou gaan die BMX-baan mos gesloop word.

Hierdie was ook die kerk waar my sussie gedoop is. Ek is amper 7 jaar ouer as my sussie en ek en my boetie moes haar indra. Ek het ‘n nuwe gehekelde rok aangetrek, die het amper soos my sussie se dooprokkie gelyk, my boetie het mooi langs my geloop en ons was trots om Andorette die kerk intedra. Ek kan nog onthou hoe ons gesing het “Jesus neem die kleine kinders aan….”

“Wakker-bly-aande” by die kerk was ook lekker tye. Ek sal nooit vir Matys en al sy biery vergeet nie. Matrys se pa was ‘n boer en Matys het geken van beeste. Wanneer almal begin moeg raak het Matrys die meisies opgeveil soos beeste en ‘n dominee moes altyd bietjie keer, want anderste het hy meisies begin beskryf soos beeste.

In die gemeente het ek ook die eerste keer regtig met die werklike en harde betekenis van die woord dood te doen gekry. Ek kan onthou hoe ons saam as SKJA by gebreekte ouers op ‘n Vrydagmiddag gesit en huil het oor ‘n naby vriend wat in ‘n motorongeluk dood in die buurt verongeluk het. Saam as groep het ons ‘n klip oor bloed gerol en het ons huilend gesing tydens ‘n roudiens.

Gemeentekampe in die berge van Fiksburg. Soggens vroeg was dit gebed en kort daarna koffie en beskuit. Kleilat was daar altyd gespeel, en kampvuur stories was daar baie, ek het self eenkeer raas gekry by my ouers omdat my nuwe netball tekkies gesmelt a.g.v. die hitte van die kampvuur. Ek kan onthou hoe ‘n ouer groep ‘n kruis op die berg aan die brand gesteek het terwyl ons “jonges” onder by die berghuis vir die ouer groep gesing het “Praat ek mense engele tale…”

Voor die gemeente het ek ook my geloof bely en ‘n beleidende lidmaat geraak.

Dit was ook die gemeente wat betekenis vir my aan die woorde versorg mekaar gegee het. Die gemeente se liefde en ondersteuning na my pa se skiedelike dood was aangrypend. Ek kan onthou hoe gemeentelede vir ons kos gebring het en ons as huis omvou het in liefde. Op daardie stadium was ek emosioneel en het ek nie die waarde daarvan verstaan nie, maar vandag weet ek dat my gemeente omgee.

Ek is 32 jaar oud en 25 jaar van 32jaar was Monumentpark-Wes deel van my lewe. Die invloed wat die kerk op my gehad is sigbaar in die keuses wat ek in die lewe gemaak het en sal maak.

Ek is dankbaar en bly om deel te wees aan ‘n kerk soos Monumentpark-Wes. Dit was lekker om tydens ‘n feesdiens ou gesigte - ooms, tannies, dominees en ou vriende weer te sien.

Ek gaan die gemeente se verjaarsdag rustig verder indie sitkamersonntejie vier, want die feesuitgawe van die Posduif ons gemeente “koerant” gaan ek stadig sinnetjie vir sinnetjie lees, terwyl ek rustig my tee drink.

No comments: